Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 18 November 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

IN DIE NUUS VANDAG:

OPROEP OM SPOEDIGE AKSIE OP 5 MHz

DX HAMVENTION DIE TEMA VIR DIE 2013 DAYTON HAMVENTION

GG-BOODSKAP UIT DIE RUIMTE
FITSAT-1 SKEDULEER 'N OPTIESE UITSENDING OP OUKERSAAND

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

OPROEP OM SPOEDIGE AKSIE OP 5 MHz

Terwyl radioamateurs in die Verenigde Koninkryk in die 5 MHz band eksperimenteer, wag ons in Suid-Afrika steeds op die antwoord van die SARL se versoek aan OKOSA vir die toekenning van een of meer kanale naby 5 MHz. Die afgelope week het die RSGB in hulle mediaverklaring gerapporteer dat hulle populêre Sondagaandse 5 MHz “Sunset Net” van frekwensie verander. Die net, soos deur sy naam weergegee, ontmoet teen sononder in die VK om voortplanting te vergelyk met dié van die 5 MHz GB2RS-nuus vroeër die dag. Die net het vir 'n tyd geskied op die VK se kanaal op 5 278,5 kHz. Volgende op 'n aantal ontvangsverslae van amateurs in die Republiek van Ierland, het die deelnemers aan die net besluit om die frekwensie van die Sondagaandnet te verskuif na 5 398,5 kHz, met 'n rugsteun op 5 278,5 kHz, beginnende vandag, 18 November, aangesien beide hierdie twee kanale vir amateurs in Ierland beskikbaar is.

Ons, hier, benodig u aksie vanaf vandag en môre tot Dinsdag. Moniteer die kanale tussen 5 250 en 5 450 kHz en rapporteer enige uitsendings wat gehoor word. Ons benodig die datum, tyd en ID van die stasie wat gehoor is, of enige ander inligting wat die organisasie identifiseer wat gehoor is. Die SARL benodig hierdie inligting ter voorbereiding vir die vergadering met OKOSA wat op Donderdag hierdie week sal plaasvind.

DX HAMVENTION DIE TEMA VIR DIE 2013 DAYTON HAMVENTION

Newsline rapporteer dat die tema vir die 2013 Dayton Hamvention “DX Hamvention” sal wees om klem te lê op 'n belangrike aspek van amateurradio nl. die vêraf-kontak. Charles Kaiser, KD8JZR, die Algemene Voorsitter van die gebeurtenis sê dat Hamvention dikwels 'n belangrike DX-bestemming vir amateurs van oor die wêreld heen is. “Om DX-werking te doen, is baie keer 'n mengsel van die magiese, toestande en die ywerige toepassing van radioteorie”, het Kaiser gesê.

'n Aantal belangrike verkopers het hulle alreeds verbind om terug te keer na Hamvention® wat deur die Dayton/Montgomery Distrik se Konvensie- en Besoekersburo geraam word om 'n ekonomiese impak van ongeveer $4 miljoen vir Mongomery distrik en $10 miljoen vir die gebied tot gevolg te hê. Hamvention®, die wêreld se grootste samekoms van radioamateurs, bring ongeveer 25 000 mense na die groter Daytongebied. Die driedaagse gebeurtenis sluit in: uitstallings, 'n snuffelmark, forums, opleidingsessies en eksamens vir lisensies. Die Dayton Hamvention 2013 is geskeduleer vir 17 tot 19 Mei 2013, besoek die webblad www.hamvention.org.

GG-BOODSKAP UIT DIE RUIMTE
FITSAT-1 SKEDULEER 'N OPTIESE UITSENDING OP OUKERSAAND

Daar sal 'n kersfeespresent van 'n soort van amateurradio in die ruimte wees. Op 24 Desember beplan die studente in Japan, wat die FITSAT-1-satelliet gebou het, om die LED optiese opstelling van die voëltjie te aktiveer en 'n boodskap in Morsekode na die aarde te flits.

Volgens JA6AVG beplan die studente om die optiese stelsel teen die einde van November te begin toets. Dit mag moontlik wees dat die Morsekodebaken met die blote oog sigbaar kan wees, heelwat voor die geskeduleerde uitsendingsdatum.

FITSAT-1 is 'n Cubesat wat deur die studente van die Fukuoka Instituut van Tegnologie in Japan ontwikkel is. Bo en behalwe die optiese senderstelsel dra dit ook 'n GG-baken op 437,250 MHz en 'n dataskakel op 437,445 MHz. Daar is ook 'n grondwaartse datakoppeling op 5,8 GHz.

KOMPETISIENUUS

Uitslae van die Lente QRP-kompetisie van 20 Oktober 2012:
1ste Pieter Jacobs,ZS6XT, 1 620 punte
2de Gerrit Rautenbach, ZS2XD 1 512 punte
3de Christopher van Rensburg, ZS3R 752 punte

Finale uitslag, al 4 kompetisies ingesluit:
1ste Gerrit Rautenbach, ZS2XD 4 728 punte
2de Pieter Jacobs, ZS6XT, 4 626 punte
3de Pierre van Deventer, ZS6A 2 560

Uitslag van die BHF/UHF-kompetisie van 15/16 September:

Swerwerstasie
1ste ZS60Y, 6 615 punte
2DE ZS6MHH, 4 499 punte

Beperkte stasie:
ZS4VP, 6 992 punte

Tuisstasie, gemengde modusse:
1ste ZS1NAZ, Analoog 54 282 / Digitaal 3 570 punte
2de ZS6A, Analoog 23 556 / Digitaal 4 924 punte
3de ZS6PX. Analoog 3 123 / Digitaal 72 684 punte

Tuistsasie, analoog alleenlik:
ZS6KTS, 7 977 punte

Tuisstasie, digital alleenlik:
ZS2ACP, 68 917 punte

Veldstasie, analoog alleenlik:
ZS6MRK, 54 135

Die resultate sal volledig in “HF Happenings” verskyn.

Die uitslae van die AWA QSO-partytjie van 13 en 14 Oktober is as volg:

AM-afdeling, hoogste telling:
Dennis, ZR6DNS.

ESB:
1ste Abe, ZS1ZS
2de Theunis, ZS2EC
3de Denis, ZR6DNS

Alhoewel meer as 30 stasies aktief deelgeneem het in die AM=afdeling, is net 2 logstate, asook 2 kontrolelogstate, ingedien.

Meer as 40 stasies het aktief in die ESB afdeling deelgeneem, maar net 4 logstate, asook 2 kontrolelogstate, is ingedien.

Die AWA bedank almal wat aan die QSO-partytjie deelgeneem het.

Die deelnemers met die hoogste tellings sal binnekort hulle sertifikate per pos ontvang.

KLUBNUUS

Die Wes-Rand Amateurradioklub hou sy volgende snuffelmark om 12:00 op Saterdag 01 Desember 2012 by die klubhuis in Krotonstraat, Weltevredenpark, Roodepoort. Almal is baie welkom. Vir meer inligting skakel Phillip, ZS6PVT, by 083 267 3835, of Geoff, ZS6GRL, 082 546 5546.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat sonaktiwiteit aan die toeneem is. Daar is 'n aantal aktiewe gebiede op die sonskyf sigbaar met die potensiaal vir fakkelaktiwiteit. Aktiewe gebiede 1 610, 1 611 en 1 614 het komplekse magnetiese konfigurasies en het die potensiaal om C-klas fakkels, en selfs M-klas fakkels te produseer.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 102.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge gaan ook gereeld voorkom as gevolg van die hoër sonaktiwiteit.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

18 November - SARL se Nasionale Velddag wat gister begin het, duur tot 10:00 UTC vandag.
18 November – Logstate vir die RaDAR-kompetisie moet in wees na die Lichtenberg Amateurradioklub (LARK), Posbus 410, Lichtenburg, 2740 of per e-pos na zs6lrk@nwinternet.za.org.
01 Desember – Wes-Rand se snuffelmark begin om 12:00.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na “Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n podcast deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web’. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Ontvangsrapporte sal waardeer word. Ons is in die besonder geïnteresseerd in verslae oor ontvangs op 4 895 kHz aangesien dit naby aan die voorgestelde nuwe amateurtoekenning van 5 MHz is. Ontvangsverslae uit alle gebiede van Suid-Afrika sal waardevol wees vir ons aansoek aan OKOSA vir frekwensiestudies. Stuur verslae aan op die laaste teen Dinsdag 20 November aan artoday@sarl.org.za.

Sentech voorsien die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, met vertalings deur Luis de Bruin, ZS5LP, en dit is saamgestel deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003